Sediment. Vrydae 17:30 op Kanaal 144

Sediment. Vrydae 17:30 op Kanaal 144

Tydens Desember 2014 het ek op Twitter kennis gemaak met die @SedimentTV rekening wat voorbrand gemaak het vir ‘n Afrikaanse KykNet reeks wat handel oor die plaaslike wyn wêreld. Op Vrydag 2 Januarie 2015 om 17:30 het die eerste episode die lug gesien, met ‘n gemengde ontvangs van die industrie af. Enige interessante nuuthede (veral dié wat ‘n bietjie omstredenheid veroorsaak) verdien om van naderby ondersoek te word.  Daar is reeds drie episodes uitgesaai en Episode 4 wys vanaand. Incogvino het die PVR hierdie week laat les opsê en al drie episodes bestudeer, en ek is reg om my beskeie uitspraak te lewer.

Die debuut episode het ‘n redelike mengsel van kommentaar op sosiale media ontlok; van uitermatige hoë lofprysing tot ‘n paar bitsige aanmerkings, sommige blykbaar meer gefokus op die aanbieder en die produksiespan as die inhoud self. Dit verras my glad nie. Sommige mense lewer altyd hul opinies as blindelingse lofsangers en ander het maar net ‘n skerp tong. Daarom het ek eers besluit om nog ‘n paar episodes te beloer voordat ek my R0.02 ook in die pot gooi.

Ek moet bieg, ek het maar gesukkel met die eerste episode. Die bewerige kameraman het my na my Stiguron laat gryp om die seesiek gevoel af te weer. En ek het by tye gewonder of hulle betaal word vir elke keer wat die skoot verander: 5 sekondes op die wynmaker, 2 sekondes op ‘n uit-fokus wynglas, terug op die wynmaker vir 3 sekondes, dan 2 sekondes op die bottel en so aan, en so voort. Ook maar goed ek het gesit en kyk want ek het begin duiselig voel. Ek besef ek is nou baie krities oor aspekte van die televisiebedryf waarmee ek nie bekend is nie (my gebrek aan terminologie in die opsig verklik dit reeds) maar vir my as kyker was dit te opvallend. Dit daar gelaat, die kamerawerk het myns insiens baie verbeter in die derde episode, ‘n tendens wat ek hoop om deur die res van die reeks te sien.

JP Quickelberge as aanbieder het ook my opinie verdeel. Hy’s jonk, vriendelik en kom baie gemaklik voor: ‘n vars gesig uit die wynbedryf. Die toon van die reeks is ontspanne en sy interaksie met die wynmakers en almal wat op die program verskyn is informeel; minder soos ‘n onderhoud en meer net ‘n lekker gesprek. Sy dikwels gemaklike ‘ad-lib’ styl laat hom soms amper in die steek wanneer hy effens minder voorbereid voorkom. Ek verstaan dat om die insetsel 27 keer oor te skiet om die dialoog 100% te kry sal beslis die natuurlike gevoel van die gesprek heeltemal vernietig, maar in veral die eerste episode kon die aanbieding miskien ‘n bietjie meer afgerond gewees het.

Maar ek is nie net hier om krities te wees nie. Ek het nie KykNet genader met ‘n idee vir ‘n wyn program nie, ek het niemand oortuig dat ek ‘n goeie aanbieder vir so iets sal wees nie en ek is beslis nie op die kassie om te gesels oor wyn nie. Die konsep is fantasties en presies wat Suid-Afrika benodig om die wyn boodskap na sy mense te bring: wyn vir die massas in die gemak van hul sitkamer. Ek verneem die plase het betaal om deel te neem aan die program en ek is nie bekend met hoe die proses verloop het nie maar ek is verheug om te sien dat die fokus weg is van die tradisionele “groot”, meer kommersiële plase en meer op kleiner, boetiek landgoedere. Die plekke besoek tot en met Episode 3 sluit in Black Elephant Vintners, Môreson (terloops ook een van die Incogvino lede), Rickety Bridge, Clos Malverne, Middelvlei, Marianne, Klawer, Lutzville en Fryer’s Cove. JP en die span snuffel die stories agter die wyn uit, gesels met die wynmakers en meng ‘n goeie dosis wynkennis by, veral met die gebruik van die “Wynfeit” oomblikke (die visuele aanduiding van die wynfeite – ‘n klein logo wat op die skerm verskyn wanneer JP ‘n wynfeit uitlig – is afwesig in die eerste twee episodes maar duik dan op in episode 3. ‘n Klein redegerings foutjie miskien?) en geselsies met die wynmakers, nie net in die proelokale of kelders nie maar ook in die wingerd.

My grootste teleurstelling is dat daar nie meer gemaak word van die saamproe aspek van die program nie. Deel van die Sediment aanbieding is die geleentheid vir kykers om by die Wyn Klub aan te sluit en elke week 6 bottels van die wyne wat in daardie week se episode geproe word, te ontvang. By elke plaas wat besoek word, word een van die wyne in die pak geproe. Ten spyte van al die moeite wat met die wyn klub gedoen word, is dit baie maklik om die proe deel tydens die episode heeltemal te mis. ‘n Vinnige bekendstelling of visuele aankondiging van die saamproe sou nie te versmaaie gewees het nie. Hulle mis ook uit op ‘n reuse geleentheid om  tydens die episode met die wyn klub lede op Twitter ‘n bietjie interaksie te skep, veral om die wyne wat geproe word. Hier by Incogvino weet ons darem al ‘n ding of twee van Twitter wynproeë. *kug*

Ek sluit af: dis ‘n uitstekende konsep. Ek haal my hoed af vir JP en almal wat dit uitgedink en deurgevoer het. Dit is hoogtyd dat die wynindustrie sien wat die jonger garde kan bemag en hoe gedrewe ons is om ons liefde vir wyn met die wêreld te deel. Nietemin, soms laat die vervaardiging en afronding die inhoud in die steek. Tog, soos ek opgelet het, blyk dit dat elke episode ‘n verbetering op die vorige een is en dit maak my hartjie bly. Ek gaan aanhou kyk, die PVR is gestel vir elke episode ingeval ek iets mis. Dit is beslis ‘n eerste vir SA televisie en vir die wyn industrie, en hopelik is dit ook nie ‘n laaste nie.

Sediment. Vrydae om 17:30 op KykNet, Kanaal 144

 

 

2 comments on “Sediment – Wyn op die Kassie

  1. Hennie

    My comment is dalk ‘n paar weke te laat maar hier is my 2 sent nou. Die program is ‘n baie goeie konsep en ek dink die program het heelwat verbeter deur die seisoen.

    Iets wat my pla is ek sou graag wou he dat hulle ‘n close-up van die bottel wat geproe word afneem. Die wyn word geproe, dit lyk baie lekker, maar ek het nooit gesien hoe lyk die bottel nie. Die aanbieder kom soms vir my onervare voor (tov wyn-kennis) en ek dink nie hy pas goed genoeg in die rol nie.

    Maar ek skakel elke week in en geniet al die plase wat besoek word, die wat ek ken en ook nie ken nie. Ek sal graag wil he dat jy weer jou opinie gee aan die einde van die reeks. Ek lees lekker aan die blog!

    1. Marthélize Tredoux Post author

      Hi Hennie. Dankie vir jou 2 sent, maak nie saak wanneer dit kom nie, ek hoor graag van lesers!

      Ek stem, die konsep is baie goed en die reeks se kwaliteit het beslis verbeter soos hulle aangegaan het. Ek dink die idee van JP as aanbieder was om weg te bly van die dikwels oortegniese kommentaar of analise wat erg ervare wynmense soms op terugval. Ek weet sy ervaring lê by Clos Malverne se PR en bemarking, maar ek dink nie hy het enige formele wyn-verwante opleiding nie.

      Ek moet bieg, ek het omtrent 3 weke laas gekyk maar ek het elke episode op ‘PVR’ en ek gaan beslis inhaal. Ek sal bietjie kyk hoe dit loop, miskien gooi ek so ‘n laaste gedagtetjie daaroor uit wanneer die reeks tot ‘n einde kom 🙂

Leave a reply

required